
Misdaad soos veediefstal gaan nie ophou nie, maar samewerking kan begin om ’n verskil in die golf te maak. Só sê me. Isabel Kruger van die Vrystaatse veediefstalvoorkomingsforum, wat met Landbou.com raad gepraat het oor hoe veediefstal voorkom kan word.
Sy sê dit is uiters belangrik dat boere daarop bedag is dat lede van misdaadsindikate gewapen is. Daarom is dit belangrik om met die polisie saam te werk wanneer diere teruggevind word.
Maak seker jou diere is gebrandmerk of getattoeëer. Volgens Kruger is die meeste vee wat gesteel word, nie gemerk nie. Dit maak dit vir die polisie baie moeiliker om die vee op te spoor en aan die eienaar terug te besorg.
Boere moet volgens haar veediefstal dadelik by die polisie aanmeld sodat ’n saaknommer toegeken kan word. Kry die saaknommer en ook die naam van die ondersoekbeampte. Jy mag hom kontak oor die vordering van jou saak.
Werkers wat aangestel word, moet verwysings voorsien van vorige werkgewers. Op dié manier kan jy ook oor die personeel beheer toepas. “Dit het uit vorige veediefstalsake duidelik geblyk dat die werknemers in baie gevalle betrokke is by die misdade op een of ander manier.”
Sy sê boere moet verseker dat hulle artikel 6, wat handel oor die oordraging van eienaarskap, en artikel 8, wat handel oor veeverwyderingsertifikate, van die Wet op Veediefstal (Wet 57 van 1959) nakom. “Die polisie gaan al hoe meer hierdie dokumente nagaan en jy kan ’n boete ontvang of selfs voor die hof gebring word.”
Navrae kan na veediefstalrpo@gmail.com gestuur word.