
’n Uitvloei van kundigheid en misdadigers wat mense opstook om produksie tot stilstand te bring, is net twee van die gevolge van die maatskaplike ongeregtigheid in Suid-Afrika, meen prof. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer wat tans ’n leerstoel in maatskaplike geregtigheid by die Universiteit Stellenbosch beklee.
Op Hortgro se tegniese simposium op Somerset-Wes het Madonsela gesê Suid-Afrikaners kan nie langer toelaat dat mense nie toegang tot kos, water en energie het nie, want dié maatskaplike ongeregtigheid maak dat die samelewing nie sterk en veerkragtig is om die toekoms tegemoet te gaan nie.
“Ons is die mees ongelyke samelewing ter hele wêreld, ten spyte van ons grondwet wat gelykheid wil bevorder en op maatskaplike geregtigheid gegrond is. Armoede beloop 55% en werkloosheid is baie hoog, dit word geskat op 46%. Ons onderwysstelsel is in die moeilikheid, dienslewering is ‘n probleem en baie mense het probleme met water-, energie- en voedselsekerheid,” het sy gesê en die plek waar Suid-Afrika hom tans bevind as ’n “koue, donker nag” beskryf.
“Ons moet dink aan die verspreiding van die landbou. Nie net die bestaan daarvan nie, maar ook waar dit gekonsentreer is en wie dit uitsluit.”
Sy wil hê Suid-Afrika moet verenig as ’n nasie.
“Covid-19 het vir my een ding kom wys, en dis deur mense agter te laat, skep jy ’n ekostelsel wat nie so veerkragtig is as wat mense dink dit is nie. Daar is ’n Afrika-gesegde wat sê dis maklik om ’n vuurhoutjie te breek, maar onmoontlik om ’n bondeltjie vuurhoutjies te breek. Weens daardie gebrek aan eenheid is ons nie veerkragtig nie.”
Gevolge van die ongelykheid is dat bekwame mense Suid-Afrika verlaat en dat korrupsie nie na behore beveg kan word nie.
“Volhoubaarheid hang nie net van jou eie produktiwitet af nie, maar jy het ’n maatskaplike verdrag nodig. Dit beteken ons het ondersteuning nodig vir wat ons doen, pleks daarvan dat mense in ons pad staan. Daar is toenemend mense wat opgevoed is in misdadigheid wat mense gebruik om ook op ’n misdadige wyse op te tree om produksie stop te sit, want hulle weet ons demokrasie werk nie,” het Madonsela gesê.
’n “Gemeenskaplike menslikheid” in die vorm van ubuntu is noodsaaklik. “Ubuntu is gegrond op die interafhanklikheid van mense en respek vir menswaardigheid. Ons kan nie langer mense agterlaat nie.”
Sy hoor mense dink die antwoord is om swart mense op te voed en vir hulle werk te gee.
“In ’n maatskaplik ongeregtige wêreld het mense verskillende dinge nodig. Sommige het werk nodig, ander het ’n mark nodig. Ja, ons kan in die landbou belê, maar ons moet eintlik in mense belê, sodat mense weer in die landbou en al ons mense kan belê.”