Langer as twee jaar ná mnr. Eugene Terre’Blanche vermoor is, is een verdagte in die saak aan sy moord skuldig bevind.
Mnr. Chris Mahlangu, wat ten tye van die moord 28 jaar oud was, is (Dinsdag, 22 Mei 2012) skuldig bevind op die aanklagte van moord en roof teen hom. Die tweede verdagte in die saak, die 18-jarige Patrick Ndlovu, is vrygespreek.
Luidens ’n berig op Nuus24.com is Ndlovu wel op ’n klag van huisbraak skuldig bevind. Hy was 16 ten tye van die moord, maar het onlangs 18 geword, derhalwe mag sy naam nou vir die eerste keer bekend gemaak word.
Diefstal
Regter John Horn het aan die begin van die uitspraak bewerings verwerp dat Ndlovu deur Terre’Blanche gesodomiseer is. Hy het opgemerk dat die getuienis daarop dui dat hy by die huis ingebreek het en vermoedelik diefstal wou pleeg.
Terre’Blanche is op 3 April 2010 in sy huis op die plaas Witrandjiesfontein buite Ventersdorp gevind. Sy liggaam het op ’n bed gelê waar hy doodgeslaan is. Volgens berigte het Terre’Blanche 28 beserings opgedoen. Hy is onder meer aan ernstige kopbeserings dood.
Mahlangu en Ndlovu het hulle kort ná die voorval aan die Polisie oorgegee.
Bron: Nuus24.com
22 Mei 2012