
’n Spesiale verhouding tussen ’n deeltydse boer en ’n “mak” seekoei het die naweek in ’n tragedie geëindig.
Maj. Marius Els (40), wat op die plaas Bellevue naby Viljoenskroon in die Noordwes boer, is deur sy troetel-seekoei, Humphrey, doodgebyt. Humphrey was die afgelope vier jaar in Els se sorg nadat hy as ’n kalfie uit ’n vloed in Mpumalanga gered is.
'Nes 'n mens'
Die boer, wat al afgeneem is terwyl hy op Humphrey se rug ry, het gesê die seekoei is nes ’n mens en soos ’n seun vir hom. Els was ten volle bewus van die feit dat seekoeie as die gevaarlikste diere in Afrika gesien word.
Ten spyte van waarskuwings deur besorgde familie en vriende het Els Humphrey soos ’n troeteldier behandel en saam met die dier geswem in ’n dam wat hy spesiaal vir die seekoei op sy plaas laat bou het.
Volgens ’n berig in Die Burger het Humphrey vir Els gebyt, die water ingesleep en doodgemaak. Die seekoei is later langs die dam doodgeskiet.
Gereeld uit sy kamp
Humphrey was verlede jaar in die moeilikheid toe Els se vennoot se kalwers op die plaas doodgebyt is en daar bespiegel is dat Humphrey verantwoordelik was vir die skade.
Die seekoei, wat glo meer as 1 200 kg geweeg het, het ook gereeld uit sy kamp gebreek en veral gholfspelers op die Orkney-gholfbaan die skrik op die lyf gejaag.
Els het volgens The Telegraph sowat 20 verskillende soorte eksotiese diere, insluitend kameelperde en renosters, op sy plaas aangehou. Hy word oorleef deur sy vrou, Louise, met wie hy 12 jaar getroud was.
Bronne: Die Burger en The Telegraph
14 November 2011