
Mnr. Saul du Toit, ’n professionele waardeerder en uitvoerende hoof van Appraisal Corporation, sê die prys gaan beslis verwagtinge skep by eienaars van soortgelyke grond in die omgewing, veral by diegene met grondeise op hul eiendom.
Die staat het R939 miljoen (R71 000/ha) aan die eienaars van die reservaat langs die Kruger-wildtuin betaal. Du Toit sê as 'n buurman van MalaMala dalk grond deur die grondeiseproses aan die staat wou verkoop, gaan dit vir die staat moeilik wees om te regverdig waarom hy minder daarvoor sou wou betaal.
Hy sê luukse wildplase in die Sabi Sands-omgewing aan die suidwestelike kant van die wildtuin is van die duurste in hierdie kategorie in die land. Hier raak grond nie noodwendig goedkoper hoe groter dit is nie, want sulke luukse toeristeplekke wil juis aan hul gaste eksklusiwiteit bied en wil daarom ’n groot grondgebied hê. Dié luukse plase het gewoonlik duur infrastruktuur, wat pryse verder kan opjaag.
Wanneer dit by jagplase kom, is grond in die algemeen goedkoper omdat die infrastruktuur daarop nie so luuks is nie. Kleiner jagplase is gewoonlik betreklik duurder as groter plase omdat meer mense kleiner plase kan bekostig en die vraag dus groter is.