Mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga en pres. Robert Mugabe van Zimbabwe het besluit dat hulle nou saam op ’n onteiende plaas in Suid-Afrika wil boer, aldus ’n woorvoerder van die Suid-Afrikaanse regering, mev. April Gekkelaar. Landbou.com het verneem dat Mugabe die land vroeër die maand besoek het om plase te besigtig en te besluit watter grond onteien moet word.
Mugabe is glo van plan om, met behulp van Malema, Zimbabwe van sy plaashuis se stoep af te regeer, en hy en Malema is glo in onderhandelinge met pres. Jacob Zuma gewikkel oor dié saak.
Wes-Kaap en Noordwes
’n Hele paar plase in die Wes-Kaap het glo Mugabe se oog gevang. Malema fokus tans op verskeie plase in die distrikte van Schweizer-Renecke en Ventersdorp waar die ANC-jeugliga ook aangedui het dat hulle myne en delwerye wil laat onteien sodat dié genasionaliseer kan word. Sowat 30 000 ha sal vir die doel aangewend word.
Malema en Mugabe is glo van plan om elke ses maande tussen die plase in die Wes-Kaap en Noordwes om te ruil sodat hulle elkeen blootstelling kan kry aan die verskillende soorte boerdery wat in die distrikte voorkom.
1 April 2011
Vir ingeval jy tot heel onder gelees het voor jy dit besef het, vandag is 1 April en nie ’n woord van die storie is waar nie!