Terwyl die besluit om mnr. Julius Malema uit die ANC te skop, met goedkeuring ontvang is, is daar ontevredenheid oor Malema se rassestellings nie veroordeel is nie.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, het in ’n verklaring gesê dat dit “totaal onaanvaarbaar” is dat Malema onskuldig bevind is op sy rassestellings teen wittes. Hy sê het die ANC het die geleentheid verbeur om ’n sterk boodskap te stuur oor hoe goeie verhoudings in Suid-Afrika bereik behoort te word.
Suid-Afrika 'n 'beter plek'
Mulder het dit egter duidelik gemaak dat die VF+ tevrede is met die besluit om Malema te skors.
“Suid-Afrika is vandag ’n beter plek as wat dit gister was omdat die ANC se dissiplinêre komitee uiteindelik die moed gehad het om teen Julius Malema op te tree en hom van die politieke terrein verwyder het.
"Met sy uitlatings oor nasionalisering het hy beleggers in die buiteland afgeskrik terwyl sy rassesienings verhoudinge verder binne Suid-Afrika vertroebel het.”
Mulder sê Malema is nou as ’t ware in “die politieke yskas” en sal hy met sy terugkeer na die Suid-Afrikaanse politiek nie meer ’n rol in ANC-jeugpolitiek kan speel nie.
Geen meer invloed
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, sê dié organisasie is verheug oor die gevolg van die ANC se dissiplinêre optrede teen Malema, maar is hoopvol dat die ANC bereid sal wees om homself van ander omstrede Malema-uitlatings, soos sy sing van die Skiet die boer-lied, te distansieer.
AfriForum het in ’n verklaring daarop gewys dat as Malema se appèl teen sy skorsing nie slaag nie, hy nie meer in politieke kringe ernstig opgeneem sal word nie.
“Malema het sy steun oorskat en sy belangrikheid was net gegrond op die feit dat hy as senior leier in die regerende party polarisende uitsprake gemaak het, meen mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.
Hy sê die afwesigheid van Malema as ? ernstige rolspeler in die Suid-Afrikaanse politiek bied ? gulde geleentheid aan almal in die land om daaraan te werk om gemeenskapsverhoudinge te normaliseer.
10 November 2011