’n Slagoffer van ’n plaasaanval was te bang om in die “Skiet die boer”-hofsaak teen Julius Malema, die leier van die ANC Jeugliga, te getuig. Luidens ’n berig op News24.com het mnr. Roelof du Plessis, die regsverteenwoordiger vir die TLU SA, gesê sy getuie vrees vir sy en sy familie se lewens en hy wou derhalwe nie Vrydag (15 April) getuig nie.
Regter Colin Lamont het aan Du Plessis gesê sy getuie hoef nie te vrees vir sy veiligheid binne die hof nie. Du Plessis het geantwoord dat die getuie nie bekommerd was oor veiligheid binne die hof nie, maar buite die hofgebou.
Plakkate
Op dié opmerking het Lamont geantwoord dat hy met oop vensters deur die gebied van die stad ry. Du Plessis het toe aan Lamont verduidelik dat die getuie se vrees spruit uit verkleinerende en neerhalende opmerkings wat mense op plakkate buite die hof vertoon.
AfriForum, wat ook die aanvanklike klag teen Malema gebring het omdat hy die lied, wat hulle meen tot haatspraak verklaar moet word, by verskeie geleenthede gesing het, het Donderdag (14 April) met verdere regsaksie gedreig.
Die regsakie sou teen Malema en mnr. Floyd Shivambu, ’n woordvoerder vir die Jeugliga, wees aangesien hulle ondersteuners buite die Gelykheidshof in Johannesburg aanmoedig om die lied saam met hulle te sing.
15 April 2011