Die polisie in die Wes-Kaap soek onverpoos na verdagtes ná ’n wrede plaasaanval op Malmesbury, aldus Agri Wes-Kaap.
Luidens ’n verklaring is mnr. Pieter Loubser, ’n melkboer van die omgewing, en me. Brenda van der Westhuizen, sy vriendin, albei in plaaslike hospitale behandel.
Loubser is weens die erns van sy beserings steeds in ’n hospitaal in die Paarl, terwyl Van der Westhuizen reeds ontslaan is. Loubser moes ’n operasie ondergaan. Mnr. Carl Opperman, hoofbestuurder van Agri Wes-Kaap, sê die operasie het goed afgeloop.
Die voorval
Drie mans met byle het die paartjie in die vroeë oggendure van Vrydag 18 November 2011 in hul kamer aangeval terwyl hulle geslaap het.
Mnr. Uys van der Westhuijzen, voorsitter van die Malmesbury-boerevereniging, sê die plaaslike polisie werk onverpoos om leidrade op te volg. “Ek is deurlopend in kontak met die polisie en vertrou dat die skuldiges binnekort vasgetrek sal word.”
Boere in die omgewing word gevra om Van der Westhuisen te kontak as hulle enige navrae of inligting het.
Ontsteld
Opperman sê hulle is hewig ontsteld oor die wreedaardige voorval. “Ons veroordeel die aanval ten sterkste. Elke mens in hierdie land het ‘n reg tot ’n veilige omgewing, veral in jou eie huis.”
Die organisasie het vroeër die jaar, ná die aanval en moord op ’n Stellenbosse boer, gesê veiligheid, sekuriteit en wetteloosheid in Suid-Afrika moet ernstig aandag kry.
Volgens Opperman “ervaar ons ’n toenemende verval van morele waardes in ons land. Veral in die landelike gebiede is dit ’n groot probleem.”
Boere word ook daaraan herinner om veiligheidsmaatrëels op hul plase na te gaan en op te skerp, én om seker te maak dat die plaasprotokol reg is.
21 November 2011