
Volgens die Valke word mnr. Thinus Becker Theunissen (61) van R4 miljoen se bedrog beskuldig. Hy het gister die eerste keer in die Potchefstroom-landdroshof verskyn.
Die Valke se ondersoekeenheid vir handelsmisdaad voer aan Theunissen het toe hy nog 'n bemarker by Vleissentraal in Klerksdorp was, beeste by boere opgelaai en vervalste fakture aan hulle uitgereik.
Hy het na bewering die beeste onder sy naam op ’n veiling verkoop. Die beeste is vir sowat R4 miljoen verkoop, maar die boere is nooit betaal nie.
Volgens die Valke het Theunissen die bedrog in 2019 en 2020 gepleeg. Hy word na bewering in die Vrystaat deur soortgelyke klagte in die gesig gestaar.
Mnr. Anton Vos, besturende direkteur van Vleissentraal, sê Theunissen is jare gelede al deur Vleissentraal ontslaan omdat hy die maatskappy se arbeidsbeleid oortree het. Vos sê die maatskappy het ’n baie streng arbeidsbeleid en dat die nodige stappe gedoen word teen enigiemand wat dit oortree.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.