
Regstappe word oorweeg ná ’n voorval Saterdag op ’n plaas buite Fochville waarin mnr. Tiaan Daffie (21) na bewering deur ’n vlieënde spuitvliegtuig getref en hy ernstige beserings aan veral sy een been opgedoen het.
Daffie word in die Mediclinic Potchefstroom behandel.
Volgens mnr. Michael Ellis van Jan Ellis-prokureurs in Potchefstroom wat namens Daffie optree, is hulle besig om die aard en omvang van Daffie se beserings vas te stel met die oog op ’n moontlike regsgeding.
Daffie en sy vriendin Ilannika Schalekamp het na bewering aanvanklik in die veld gestaan waar hulle 'n video geneem het, ver van die landery waar die vliegtuig spuitwerk gedoen het. Soos wat die vliegtuig nader gekom het, het hulle later op hulle hurke gaan sit en later plat gaan lê.
Daffie het die naderende spuitvliegtuig met ’n selfoon afgeneem. Sy opname toon hoe die vliegtuig laag tot by hulle vlieg, maar dan eindig die video-opname. Daffie het later in die voertuig waarin hy na die hospitaal gebring is self ’n foto van sy ernstig beseerde been geneem.
Die voorval is bolangs op ’n Facebook-groep bespreek, waarin Daffie sê hy is dankbaar dat hy leef, en die Here dank vir sy lewe.
Mnr. Hennie Viviers, die vlieënier, sê hy mag nie oor die voorval praat totdat die ondersoek van die Burgerlugvaartowerheid (BLO) afgehandel is nie.
Me. Marie Bray, waarnemende kommunikasiebestuurder van die BLO, sê hulle ondersoek die voorval waarin ’n Air Tractor 502-vliegtuig betrokke was.
“Die voorval waartydens spuitwerk gedoen is, het op die plaas Elandsfontein buite Fochville in Gauteng plaasgevind. Die vliegtuig het van die plaas opgestyg en sou weer daar land. Ons samel inligting in om die omvang van die ondersoek te bepaal. Ons bevindings oor die oorsaak van die ongeluk sal in die finale verslag bekend gemaak word. Die ondersoek kan binne 12 maande afgehandel word.”