‘n Man wat daarvan verdink word dat hy Vrystaatse boere en vleishandelaars uit vee en vleis ter waarde van R1 miljoen bedrieg het, is geen borg in die Bloemfonteinse Landdroshof toegestaan nie.
Luidens ‘n berig op News24.com het die hof Dinsdag (7 September) bevind dat dit die beste vir die regsproses sal wees as die 43 jarige mnr. Micheal Senekal van Kempton Park, in aanhouding bly.
Die verhoor van die saak sal op 13 Oktober weer voorkom. Intussen is die staat kans gegun om klagtes in ander provinsies teen Senekal te saam te voeg.
Staan terreg op 19 aanklagte
Senekal is vroeër op 19 aanklagte in Gauteng aangekeer. Die vleishandelaar, wat vleis aan slaghuise in Gauteng verskaf het, het tussen Februarie 2006 en Oktober 2007 met verskeie sakemanne in die Vrystaat, insluitend boere, kontak gemaak.
Ná hy die persone se vleis ontvang het, het hy glo verdwyn sonder om hulle te betaal. Die saak is onder die Valke in die Vrystaat se aandag gebring, wat tot Senekal se inhegtenisname gelei het.
Senekal staan terreg op onder meer klagtes van bedrog en diefstal.
8 September 2010