'n Jarelange inwoner van die Soutpansberggebied en bekende in landboukringe, die 83-jarige mnr. Manie Eloff van die plaas Klipput in die Bandelierkop-omgewing is Donderdag, op sy verjaarsdag, ná 'n kort siekbed oorlede.
Eloff het diep spore in die gemeenskap en in die landboubedryf getrap. Hy was vir langer as 'n dekade die voorsitter van die Soutpansberg Landbou-unie en was tot met sy dood lid van die TLU SA. Hy was vir etlike jare die hoof van die Mara-Navorsingstasie waarna hy met beeste en wild geboer het.
Die voorsitter van die Soutpansberg Landbou-unie, mnr. Stephen Hoffman sê só 'n besondere mens sal gemis word en sy bydrae tot die gemeenskap lê vasgemessel in die gemeenskap waarvoor hy so lief was. Hoffman sê dat die landbou 'n reus verloor het en dat dié merkwaardige man gemis sal word.
Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
15 November 2010