
Mnr. Pieta Hoffman, ’n derdejaarstudent by die landboudepartement aan die Universiteit van die Vrystaat, het Saterdag saam met sy pa, Sias, broer, Bennie, en ’n plaaswerker, mnr. Justice Benjula, veldbrande op die familie se plaas, Bulberg, probeer keer.
Pieta en Benjula het agter op sy pa se bakkie gery toe die brand hulle oorval het. Die hitte het die twee oorweldig en hulle het van die bakkie afgespring waarna Pieta geprobeer het om hulle albei nat te spuit.
Justice het uiteindelik in ’n krip vol water gespring. Albei mans is met tweedegraadse brandwonde in die Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein opgeneem.
Brande het die naweek groot skade in dele van Suid-Afrika aangerig. In die distrik Dewetsdorp het bykans 65 000 ha veld afgebrand. Ten minste 155 400 ha veld het in die Vrystaat afgebrand.
Volgens Volksblad probeer die plaaslike boerevereniging ’n plan bewerkstelling om die nood met veevoer te verlig. Aanbiedinge van weiveld begin glo reeds inkom.
Bron: Volksblad