
Nege agentskappe word daarvan verdink dat hulle ’n kartel gevorm het, pryse op die Johannesburgse en Pretorise varsproduktemarkte gemanipuleer en dit onmoontlik maak vir kleiner agentskappe om volhoubaar besigheid te doen.
Volgens ’n nuusverklaring van die Mededingingskommissie is die nege agentskappe wat ondersoek word, Wenpro, Botha en Roodt, RSA, Noordvaal, Farmers Trust, DW Fresh, Marco, Subtropico en Dapper. “Die ondersoek is in reaksie op ’n klagte van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en dokumentasie, data en inligting sal in die ondersoek konfiskeer word.
“Die kommissie het rede om te glo dat hierdie nege agentskappe ooreenkom om vir sekere tye van die dag produkte teen nie-volhoubare lae pryse te verkoop, wat dit onmoontlik maak vir die kleiner agentskappe om volhoubaar besigheid te doen,” lui die verklaring.
Groot volumes vrugte en groente
In die verklaring word die agentskappe ook daarvan aangekla dat hulle groot volumes vrugte en groente reserveer vir sekere kopers op grond van hul identiteit. “Dit bring mee dat groot volumes groente en vrugte teen baie hoër pryse verkoop word as die daaglikse gemiddelde prys wat op die mark bereik is,” lui die verklaring.
Die kommissie verdink ook die varsproduktebedrywe daarvan dat hulle doelbewus opkomende swart boere en markagente uit die markte probeer hou met hierdie tipe gedrag.
Markagent se mening
Volgens mnr. Dirk Schlebusch, ’n direkteur van Wenpro, is dit duidelik dat die Departement van Landbou nie die markproses verstaan nie. “Ons bepaal daagliks die prys wat ons gaan vra deur die vraag en aanbod te evalueer. Ons ding met ander agentskappe mee vir beide markaandeel van die verkope en produkvolume van produsente af. Dit gaan moeilik wees om suksesvol te wees sonder om kompeterend te wees. Die departement moes eers met produsente, soos mnr. Johan van Niekerk, wat by drie verskillende agentskappe produkte aflaai, gaan gesels het en gekyk het of die prys vir sy produk op dieselfde dag by al drie agentskappe dieselfde is."
Schlebusch meen dié klagtes kom van kleiner agentskappe wat nie die mark- of prysvasstelingproses verstaan nie en dus nie suksesvol as markagent kan funksioneer nie. Dit maak my ongelukkig dat die departement hierdie klag ingedien het, want dit beteken selfs nie eens hulle verstaan die proses ordentlik nie.”
Gee volle samewerking
Volgens mnr. Deon van Zyl, verkoopdirekteur van RSA Markagentskap, gee hulle hul volle samewerking aan die kommissie. “Ons het niks om weg te steek nie. Ek glo, ná hierdie ondersoek sal dit baie duidelik aan die lig kom dat ons as markagente ’n skoon rekord het, ongeag die voortdurende klagtes en aantygings teen ons.
“Die goeie nuus is dat die werksaamhede op die markvloere nie geraak word nie, dat die betalings aan boere nie deur hierdie ondersoek beïnvloed sal word nie en dat boere nie hoef bekommerd te wees oor produkte wat op die markte afgelaai word nie,” verduidelik Van Zyl.