
’n Massey Ferguson MF 5610-trekker is op 19 November in Antarktika afgelaai as deel van ’n ekspidisie deur dié trekkervervaardiger na die Suidpool.
Die ambisieuse Antarktika2-sending om die Suidpool met 'n trekker te bereik, sal hopelik die komende naweek (22 November) kan vertrek, afhangende van die weer. Dié reis is 5000 km oor die ysvelde van Antarktika.
Luidens ’n berig op AgriEU het die aankoms van die trekker gister saamgeval met die met die amptelike geboorte van die Massey Ferguson-handelsmerk op 19 November 1957.
Die MF 5610 is 'n standaard produksietrekker wat spesiaal vir die uiterste Antarktiese toestande voorberei is deur Massey Ferguson se tegniese span by AGCO se Beauvais-fabriek in Frankryk.
Die ekspedisie-ambassadeur en een van die mense wat die trekker Suidpool toe gaan bestuur, is me. Manon Ossevoort, beter bekend as die “trekkervrou”. Sy het reeds 'n trekker oor 38 000 km van haar huis in Nederland deur Europa en Afrika bestuur. Sy word bygestaan deur ’n span gesoute pool-ontdekkingsreisigers en tegniese spesialiste .
Die doel van die ekspedisie is om te wys hoe toeganklik tegnologie en innoverende dienste is om die nuwe generasie boere te help.
Bron: AgriEU