’n Nuwe pakhuis van sowat R150 miljoen vir onderdele gaan vir John Deere naby die OR Tambo-lughawe by Kemptonpark ontwikkel word.
Luidens ’n verklaring is die maatskappy baie opgewonde oor dié belegging. Die pakhuis sal onder meer van die beste tegnologie in die wêreld huisves.
Mnr. Len Brand, besturende direkteur van die maatskappy, sê dié pakhuis sal drie keer groter wees as John Deere se bestaande pakhuis in Rosslyn. Die pakhuis se geriewe sal van dieselfde gehalte en standaard as dié van Europa en Amerika wees.
Afrika suid van die Sahara
Brand sê dié pakhuis sal handelaars deur die hele Afrika suid van die Sahara ondersteun. Dit was nog altyd vir die maatskappy belangrik om nie net onderdele vir hul kliënte beskikbaar te hê nie, maar ook om te verseker dat hul handelaars in staat is om kliënte te kan ondersteun.
Die pakhuis vorm deel van verskeie inisiatiewe wat die maatskappy sedert 2005 in Afrika en Suid-Afrika bekend gestel het.
Die jongste daarvan is John Deere Finance wat tydens vanjaar se Nampo-Oesdag bekend gestel is. Dié diens bied finansiële oplossings vir die maatskappy se kliënte én handelaars.
28 Oktober 2011