
Die Universiteit Stellenbosch (US) sal voortaan ’n sentrum van uitnemendheid vir wingerd- en wynkunde wees.
Dr. Johann Rupert, sakemagnaat, wynplaaseienaar en kanselier van die US, sê die verskillende belanghebbendes gaan ’n instituut op die been bring wat nie sal terugstaan vir die Universiteit van Kalifornië by Davis nie.
Rupert meen ’n universiteit moet net twee of drie vakgebiede hê waarin dit uitblink, eerder as om die beste te probeer wees in “twintig of dertig” vakgebiede.
Hy verstaan nie waarom hy hom altyd op die buiteland moet beroep wanneer hy wynverwante inligting nodig het nie. Ná lang samesprekinge met onder andere prof. Mohammed Karaan, hoof van agriwetenskappe aan die US, en ander betrokkenes het Rupert die stigting van die instituut bekend gemaak.
'n 'Wêreldklas-instelling'
“Ons gaan ’n werklik wêreldklas-instelling op die been bring sodat ons almal die korrekte inligting op ’n vinnige manier kan kry,” het Rupert aan die sowat 500 wynboere en bedryfsbelanghebbendes gesê.
“Ek wil almal nou vra, laat ons nie in die toekoms weer ’n tweespalt hê tussen die wingerdboere, en ek sluit tafeldruifboere in, en die akademiese wêreld nie. Ons het reeds die produsente, en ek dink dit is nou ’n reusesprong om ook die kennisbasis daar te hê.”
Mnr. Marius Lambrechts van Distell is as voorsitter van die interimraad aangewys. Die raad bestaan uit proff. Louise Warnich, Alaine Deloire, mnre. Niel Ellis, Abrie Botha, Henk Bruwer, Johan van Niekerk, Elaine Alexander, Gary Baumgarten, GT Ferreira, Jan Boland Coetzee, Duimpie Bayly, proff. Leopold van Huysteen, Mohammad Karaan en Jan Booysen.
Volgens Booysen is die amptelike stigting 1 April, maar hy meen dit sal sowat twee tot drie jaar duur voordat alle strukture in plek is.
31 Januarie 2012