Die nuwe leier van die DA in die Parlement, me. Lindiwe Mazibuko, het die gesoute landboukenner dr. Lourie Bosman as skaduminister van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye verwyder.
Die DA se nuwe span skaduministers is by die Parlement bekend gemaak.
Me. Annette Steyn, wat voorheen die adjunkwoordvoerder van die DA by die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming was, is nou die skaduminister vir landbou, bosbou en visserye.
Voor Mazibuko die DA se leier in die Parlement geword het, was sy die skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming. Bosman is nou die adjunkwoordvoerder vir hoëronderrig en opleiding.
In wat beskou kan word as ’n skokkende skuif, is mnr. Pieter van Dalen, voorheen die adjunkwoordvoerder van openbare ondernemings, nou die adjunkwoordvoerder vir landbou, bosbou en visserye.
Een van die goeie skuiwe wat Mazibuko gemaak het, is om haar ou pos aan mnr. Athol Trollip, wat nie net goed Xhosa kan praat nie, maar ook ’n groot passie vir landelike gebiede het, die pos as skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming te gee. Boonop was Trollip voorheen die DA se leier in die Parlement.
Mazibuko het gesê haar nuwe skadukabinet is só gekies dat dit verandering sal aanspoor. Sy het uitgewys dat elkeen van die skadukabinetslede geplaas is waar hy/sy die beste werk sal kan doen.
1 Februarie 2012