Pres. Cyril Ramaphosa het vanjaar in sy staatsrede gesê dis belangrik vir groei en belegging dat onnodige rompslomp uit die weg geruim moet word, en het ’n teiken gestel dat aansoeke om waterlisensies binne 90 dae verwerk moet word. Volgens Mchunu het die departement ’n deeglike studie gedoen om die redes vir vertragings in die uitreiking van lisensies te bepaal. ’n Omvattende verbeteringsplan word nou in werking gestel.
“Ons het bykomende poste in ons struktuur geskep vir die verwerking van lisensie-aansoeke, sakeprosesse vir lisensiëring verbeter, die inligtingstegnologiestelsels vir lisensiëring verbeter, en personeel word tans opgelei.”
Die departement se begroting vir die huidige en volgende twee boekjare is onderskeidelik R18,5 miljard, R20,1 miljard en R20,9 miljard. ’n Voorwaardelike infrastruktuurtoekenning van R37,4 miljard vir munisipale waterdienste is by die mediumtermyn-bestedingsraamwerk ingesluit.