Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye wil ’n private maatskappy betaal om dienste te lewer wat sy eie instelling, Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), eintlik moet behartig.
Die departement wil Afrivet kontrakteer om veeartsenydienste aan boere te lewer en die taak van voorligtingsbeamptes oor te neem deur kleinboere te leer hoe om dieregesondheid te bestuur. Die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye het dit egter duidelik aan mnr. Langa Zita, direkteur-generaal, gestel dat hy nie ten gunste van dié nuutste verwikkeling is nie.
Zita het aan die komitee verduidelik dat sy departement Afrivet wil gebruik sodat hulle hul mandaat kan vervul terwyl die probleme by die OBP opgelos word.
Me. Meriam Phaliso, ANC-LP, sê dit is nuus dat die departement ’n private instelling die werk wil gee, terwyl hy nie die OBP, ’n regeringsinstelling, ondersteun nie.
Mnr. Lulu Johnson, voorsitter van die portefeuljekomitee, sê die boodskap is duidelik dat die Regering se eie instellings ondersteun moet word eerder as private instellings. “Ons eie provinsiale regerings koop nie entstowwe van die OBP nie.”
‘Teenstrydig met die beginsel’
Mnr. Lourie Bosman, DA-LP, meen die Regering wil basies die OBP se mededinger vergoed. “Dit is teenstrydig met die staat se beginsel om ’n private maatskappy te vergoed vir die dienste wat hy self moet lewer.
“Oor die afgelope paar jaar het die OBP nie begrotingsondersteuning van die Regering gekry nie, maar dit word van hom verwag om hoë tegnologiese produkte te lewer.”
Van die groot masjiene wat gevorderde entstowwe maak, is al ouer as 20 jaar en daar is nie onderdele om dit mee te herstel as dit breek nie. Dit is ook lankal nie meer onder waarborg van die verskaffer nie. Die geboue is verwaarloos en dateer terug tot 1968.
Dit kan die Regering tot sowat R800 miljoen uit die sak jaag om die infrastruktuur en die instansie te verbeter.
23 November 2010