
Mediumgrootte boerderye is ’n groeiende neiging in die landbou in Afrika.
Me. Lulama Ndibongo-Traub van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het dit by die bekendstelling van die buro se vooruitskouingsverslag tot 2023 as een van die belangrike mega-neigings in die landbou op die vasteland genoem.
Die vraag na landbougrond het danksy stygende globale kommoditeitspryse dramaties gestyg en plaasstrukture op die vasteland verander volgens haar vinnig. Daar is meer mediumgrootte plase (5 – 100 ha) wat bewerk of besit word, as wat daar grootskaalse boerderye is.
Volgens Lulama-Traub is daar groeiende belangstelling in Afrika se natuurlike hulpbronne teen die agtergrond van stygende globale voedsel- en energiepryse aangevuur deur inkomstegroei en verstedeliking in BRICS-lande. “Kan die landbousektor in hierdie groeiende vraag voorsien, en lê die antwoord in Afrika?” het sy gevra.
In dig bevolkte plaasstelsels kom wyd verspreide agteruitgang van grond voor. Dit is die gevolg van onvolhoubare bewerkingspraktyke soos voortdurende bewerking wat kleinboere op kleiner wordende plase toepas.
Lulama-Traub het groter klimaatswisseling as ’n verdere neiging uitgelig terwyl lede van die gehoor die belangrikheid van regeringsbeleid by haar lys gevoeg het.
Oor Afrika se verbruikers het sy gesê die vasteland se ryk verbruikersgroep groei, maar dit is ’n elite-groep wat veral in stede woon. “Hulle gaan wegbeweeg van stapelvoedsels. In hierdie stadium voorsien markte buite Afrika in hul vraag.”
Nog ’n bevolkingsneiging is die groot groep jong mense: Op die platteland is 62% van mense jonger as 25 jaar oud. Vinnige verstedeliking is nie noodwendig meer oral in Afrika ’n gegewe nie.
Lulama-Traub het gesê in Afrika suid van die Sahara het baie mense teruggetrek platteland toe omdat hulle nie in die stad werk kon kry nie. Dit word nou as die enigste streek beskou waar plattelandse bevolkings in die toekoms gaan groei en die neiging kom onder meer voor in Zambië, die Ivoorkus, Mali en die Sentraal-Afrikaanse Republiek.