
Die aanbod van plase wat in Suid-Afrika te koop is, het einde Mei vanjaar tot 20 071 gestyg. Dié syfer is op Property24 se platform waar eiendomsagente en ander rolspelers plase wat op die mark is, aanbied. Dié platform is net op Landbou.com beskikbaar.
Die aanbod van plase te koop word sedert Mei 2016 maandeliks gemeet, en vanjaar se Mei-getal is die eerste keer wat dié syfer bokant 20 000 styg. In Februarie 2015 was 13 254 plase te koop op dié platform.
Mnr. Johann Bornman van Agri Development Solutions sê dié gebeure is die sigbare langtermyn-invloed van een van die ergste droogtes in die geskiedenis van Suid-Afrika, wat ál hoe meer na vore kom. “Daarmee saam moet ook gelees word die impak van 'n makro-ekonomie waarvan die ondersteuningsbasis vir die landbouherstel feitlik vernietig is deur dwase politiek en elemente van owerheid-struikrowery."
Bornman, wat tans besig is met 'n omvattende grond-oudit, het die Property24-statistiek in die meegaande tabel saamgestel.
“Waar die aanbod van Mei 2017 vergelyk word met Januarie 2017, is die wesenlike stygende aanbod te sien, veral in Noordwes met 10,1%, Mpumalanga met 12,5%, Vrystaat 17,5%, Noord-Kaap 18,4% en die totaal met 8,8%.
“In geheel ondervind byna alle bedryfsvertakkinge in die landbou 'n erge kosteprys-knyptang. Net twee voorbeelde: Aan die een kant verwag die mieliebedryf die grootste oes in die geskiedenis, maar met produkpryse wat gelykbreek, wat dit vir baie boere 'n uitdaging maak.
“Daarteenoor is die rooivleisbedryf met 'n kuddebou-fase besig teen nouliks bekostigbare markvlakke vir aanteelvee. Dit beperk geleenthede vir diversifikasie. Kontantvloei van baie boere is ook onder erge druk.”
Knelgreep van droogteBornman sê groot dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap is nog vasgevang in die knelgreep van die droogte en die ekonomiese impak daarvan het nog nie ten volle uitgespeel nie. Verder ondervind vertakkinge in die vrugtebedryf ook oesprobleme.
“Teen hierdie agtergrond word die ekonomiese status en gemoedstoestand van boere duidelik weerspieël in die patroon van die grond-markaanbod in die landbou.”
Bornman sê: “Ons bevind ons in 'n tydvak wat voorwaar met groot omsigtigheid deur alle rolspelers in die landbousektor benader moet word. Groot skade en die lewens van baie mense is op die spel.”