
Sanparke se jongste statistiek dui aan 138 renosters is vanjaar al deur stropers doodgemaak, en met 116 dae van die jaar wat reeds verby is, beteken dit meer as een renoster is per dag doodgemaak.
Die aantal stropers wat tot dusver vanjaar gearresteer is, staan op 82. Mnr. Pelham Jones, die voorsitter van die Private Rhino Owners’ Association (PROA), sê dié syfer het twee weke gelede nog op 114 gestaan. “Dis skokkend dat die getal in ’n kwessie van net twee weke so kon opskiet.”
Stroper doodgeskiet
Intussen is nog ’n stroper oor die naweek in die Kruger Nasionale Park (KNP) deur wildbewaarders doodgeskiet.
Luidens ’n verklaring het bewaarders en lede van die weermag Saterdag (23 April) tydens roetine-patrollies op twee groepe stropers in die park afgekom. ’n Skietery het tussen die groepe uitgebreek, waartydens een stroper doodgeskiet is. ’n Tweede stroper is gewond en aangekeer, terwyl ’n derde ook in hegtenis geneem is.
Drie renosterkarkasse is tydens die patrollies gevind. Die voorvalle het omgewing van Stolsnek en Tshokwane in die park plaasgevind.
Private eienaars
Jones sê hulle is nie bewus van enige voorvalle wat die afgelope naweek op private reservate of wildplase voorgekom het nie. “Private eienaars is baie bewus van die kwesbaarheid van hul diere, en met lede van die weermag wat in die KNP ontplooi is, word provinsiale parke en private reservate sagte teikens vir stropers. En die vraag van die stropers se kant af neem nie af nie, dit neem toe!”.
Die vereniging is tans in gesprek met me. Edna Molewa, die Minister van Waterwese en Omgewingsake, oor amnestie vir private eienaars wat nog nie hul diere en dié diere se horings op ’n databasis geregistreer het nie.
26 April 2011