Trekkerverkope het verlede maand met 8,1% gestyg, wat die optimisme wat tans in die mark heers weerspieël, aldus die Suid-Afrikaanse Landboumasjienerie-vereniging (SAAMA).
Luidens ‘n verklaring is 428 trekkers in Januarie 2011 verkoop, terwyl verkope vir dieselfde maand in 2010 op 396 te staan gekom het.
Stroperverkope het ook ‘n aansienlike styging ondervind, met 10 eenhede wat verkoop is teenoor Januarie 2010 se ses.
Swakker rand se invloed
SAAMA meen die neigings rondom hoër trekker- en stroperverkope is bemoedigend.
“Dit bly ’n kopersmark en met die onlangse verswakking van die rand, is daar kommer dat die pryse van ingevoerde toerusting binnekort sal begin styg. Pryse vir mielies, sojaboon en koring het in die afgelope maande verbeter en dit dra ook by tot optimisme in die mark. Boere gebruik die toegankliker bankfinansiering en huidige geleenthede in die mark om te belê in nuwe kapitaaltoerusting”, sê SAAMA.
Na verwagting sal tussen 5000 en 5200 trekkereenhede dié jaar verkoop word, wat soortgelyk is aan verkope van verlede jaar.
7 Februarie 2011