Die Landboubesigheidskamer (LBK) verwelkom die verhoging van 17,9% in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se jaarlikse begroting.
Luidens ’n nuusbrief sê die organisasie hy hoop dat die fokus wat die Regering tans op die departement en die bedrywe plaas, tot doeltreffender dienslewering en voedselsekerheid vir almal sal lei.
Die LBK sê hulle steun me. Tina Joemat-Pettersson, in haar fokus op die ontwikkeling van vennootskappe tussen die private sektor en die Regering. “Daar is inderdaad potensiaal vir meer werksgeleenthede oor ’n wye front in die primêre landbou en die landbouverwerkingsbedryf, maar dit sal van betrokkenes – en spesifiek die Regering – vereis om groter sakevertroue te skep,” lui die verklaring.
Groter vertroue
Die organisasie sê meer sakevertroue sal tot groter beleggings in die landbou lei, wat tot beter groei sal lei, wat uiteindelik werkskepping gaan bevoordeel. Die private sektor het reeds inisiatiewe in dié verband onderneem, maar beter samewerking tussen dié sektor en die Regering is nodig om die hoë mikpunte wat gestel word, te bereik.
Die LBK meen dat die minister moet leiding neem en ’n voorbeeld stel om beter vennootskappe te vestig, aangesien die vlak van vennootskappe onbevredigend is. Hoewel die minister op belangrike aspekte van die landbou in Afrika gefokus het, soos opleiding en biosekuriteit, meen die LBK die landboubedryf in die algemeen het nie die nodige erkenning gekry nie, en dat die sektor onderskat word. “Dit kan ’n groot fout wees,” lui die verklaring.
21 April 2011