Meer as R100 miljoen van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling se begroting is vir landbouverwerking toegewys.
Mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, het sy departement se begroting van R672,7 miljoen vir die 2012/’13 boekjaar in die Parlement ter tafel gelê.
Patel het in sy begrotingsrede gesê altesame R108 miljoen is aan die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) toegewys vir sy landbouverwerkingsfonds. In die vorige begroting is slegs R34 miljoen daaraan afgestaan.
Hy het gesê die landbouverwerkingsfonds het reeds nege projekte met ’n totale waarde van R66 miljoen goedgekeur. Dit sluit in ’n klein pastavervaardiger, twee melkerye en ’n vervaardiger van droëvrugte en neute.
Daar word verwag dat die korporasie meer as 30 000 nuwe werkgeleenthede sal skep en dat hy 11 000 bestaande geleenthede sal red.
Altesame R169 miljoen is vir die nuut gestigte finansieringsagentskap vir klein ondernemings, Sefa, begroot. Sefa se ontstaan spruit uit die samevoeging van die kleinsake-afdeling van die IDC, en die ontwikkelingsfinansiers vir kleinsake (Khula) en die Suid-Afrikaanse Mikrofinansieringsfonds (Samaf).
Patel het gesê meer as R20 miljoen sal gespaar word deur die aantal finansieringsagentskappe te verminder waarmee meer entrepreneurs gefinansier kan word.
Hy het ook aangekondig dat die IDC ’n groeneffek van R5 miljard sal uitreik wat die Kommissie op Openbare Beleggings sal opneem om in die groen-ekonomie te belê.
25 April 2012