Sowat 4% meer koring kan vanjaar in Suid-Afrika geproduseer word, hoofsaaklik weens ‘n groter as verwagte toename in die Vrystaat, sê die Nasionale Oesskattingskomitee.
Die voorlaaste produksieskatting vir koring is opwaarts met 76 750 ton aangepas tot 1,85 miljoen ton, wat 4,33% hoër is as die 1,77 miljoen ton van die vorige skatting. Die oppervlakte beplant met koring is onveranderd gelaat op 604 700 ha. Die gemiddelde opbrengs vir koring is 3,06 t/ha.
Die toename in die verwagte produksie van koring kan hoofsaaklik toegeskryf word aan beter as verwagte opbrengste, sowel as dat produsente lewerings, soos gemonitor deur SAGIS, hoër is as die geskatte oes.
Die verwagte produksie van koring is onder andere opwaarts aangepas vir die Wes-Kaap met 13 250 ton of 2,08%, vir die Vrystaat met 56 250 ton of 11,63%, en vir die Noord-Kaap met 2 100 ton of 0,77%. Aanpassings is ook in sommige van die ander provinsies gemaak.
Ander gewasse: Die produksieskatting vir moutgars is ook opwaarts aangepas tot 300 910 ton, wat 16 760 ton of 5,9% hoër is as die 284 150 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting is onveranderd gelaat op 80 150 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,75 t/ha beloop.
Die verwagte kanola-oes is onveranderd gelaat op 59 490 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is ook onveranderd gelaat op 43 510 ha, met ? verwagte opbrengs van 1,37 t/ha.
Die finale produksieskatting vir wintergewasse vir die 2011 produksieseisoen word op 28 Februarie 2012 uitgereik.
25 Januarie 2012