
Dr. Koos Coetzee, ekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê in die invoerkategorie melk en room is 20 000 ton meer van Januarie tot Junie vanjaar ingevoer as in dieselfde tydperk verlede jaar., en dit was hoofsaaklik UHT-melk. Die hoeveelheid ingevoerde melkpoeier het met 3 000 ton gestyg.
Coetzee skryf dit toe aan plaaslike kleinhandelaars en verwerkers wat gevrees het dat in die winter dalk nie genoeg melk sou wees om in die vraag te voorsien nie. Hy sê die langlewemelk wat vanjaar ingevoer is, kom hoofsaaklik uit Pole. Dié land soek nuwe uitvoermarkte nadat Rusland in 2014 'n verbod op ingevoerde Europese voedselprodukte aangekondig het.
Suid-Afrika voer gewoonlik langlewemelk uit Uruguay en Argentinië in, maar dié lande se produksie was verlede jaar en vanjaar laer, weens droogte en lae pryse. Invoer van UHT-melk uit Uruguay het verlede jaar met 10,3% gedaal, maar van Januarie tot Maart vanjaar met 4,4% gestyg. Die hoeveelheid UHT-melk uit Argentinië het verlede jaar met 12,6% gedaal en vanjaar met 0,5%.
Vergeleke met die totale hoeveelheid suiwelprodukte wat ingevoer word, is langlewemelk 'n klein persentasie. In 2015 het UHT-melk, op 'n melk-ekwivalentgrondslag (die hoeveelheid melk wat na raming gebruik word om produkte te vervaardig), 8,5% van totale ingevoerde suiwelprodukte verteenwoordig.
Verlede jaar het langlewemelk in die eerste ses maande vir 1% van ingevoerde suiwelprodukte gesorg en vir die volle twaalf maande vir 6,1%. Vanjaar, vanaf Januarie tot Junie, het ingevoerde UHT-melk 10,7% van suiwelinvoer verteenwoordig. Suid-Afrika hef 'n 0%-invoertarief op melk, ongeag van waar dit kom.
Coetzee sê sou Suid-Afrika dié tarief verhoog, sal dit nie vir produkte uit die Europese Unie (EU) geld nie, weens die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EVO) tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die EU.