Mielie-aanplantings vir die nuwe seisoen is bykans 11% meer as die 2,37 miljoen ha wat verlede seisoen geplant is, aldus die Nasionale Oesskattingskomitee.
Die voorlopige oppervlakteskatting is gebaseer op die resultate van ’n nie-ewekansige opname deur die Direktoraat: Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en weerspieël die situasie teen die middel van Januarie 2012.
Luidens ‘n verklaring lyk die oesskatting as volg:
Kommersiële mielies:
Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,63 miljoen ha, wat 10,87% of 257 900 ha meer is as die 2,37 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is, maar ook 1,08% meer as die voornemens om te plant syfer van 2,60 miljoen ha soos vrygestel in Oktober 2011.
Die oppervlak onder witmielies is 1,59 miljoen ha, wat ’n toename van 12,12% of 171 900 ha verteenwoordig vergeleke met die 1,42 miljoen ha die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,04 miljoen ha, 9,01% of 86 000 ha meer as die 954 000 ha geplant die vorige seisoen.
Sonneblomsaad: Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 515 000 ha, wat bykans 19,87% minder is as die 642 700 ha aangeplant die vorige seisoen.
Ander gewasse: Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 480 000 ha, wat ’n toename van 14,83% verteenwoordig, vergeleke met die 418 000 ha geplant die vorige seisoen. Hierdie is die hoogste oppervlakte nog ooit beplant met sojabone.
Vir grondbone is die oppervlakteskatting 46 000 ha, wat 16,59% minder is as die 55 150 ha geplant vir die vorige seisoen.
Die oppervlakteskatting vir sorghum het gedaal met 30,64%, van 69 200 ha tot 48 000 ha teenoor die vorige seisoen.
In die geval van droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 4 700 ha of 11,22% minder as die 41 900 ha die vorige seisoen geplant.
Die hersiene oppervlakte- en eerste produksieskatting vir somergewasse vir 2012, word op 28 Februarie 2012 vrygestel.
25 Januarie 2012