
Sowat 25 000 ha meer se mielies is die seisoen aangeplant as wat aanvanklik verwag is, sê die Oesskattingskomitee. Volgens die jongste oesskatting beloop die verwagte oppervlakte onder mielies nou 2,710 milj. ha, wat 2,54% of 70 700 ha minder is as die 2,781 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is. Dit is wel 0,95% of 25 000 ha meer as die voornemens om te plant van 2,685 miljoen ha soos vrygestel in Oktober 2013.
Die oppervlak onder wit mielies het met 2,83% of 45 700 ha afgeneem in vergelyking met die 1,617 miljoen ha van die vorige seisoen. In die geval van geel mielies is die oppervlakteskatting 1,139 miljoen ha, wat 2,15% of 25 000 ha minder is as die 1,164 milj. ha geplant die vorige seisoen.
Swak deelname
Die skatting berus op die nie-ewekansige opname onderneem deur die Direktoraat: Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en weerspieël die situasie teen die middel van Januarie 2014.
“Die skattings is gebaseer op 'n relatief swak deelname deur boere aan die opname wat deur die direktoraat gedoen word,” lui die verslag.
Wat sonneblomsaad betref, word geskat dat 618 400 ha aangeplant is, wat 22,53% of 113 700 ha meer is as die 504 700 ha wat die vorige seisoen aangeplant is. Die geskatte oppervlak beplant met sojabone is 516 000 ha, wat ’n effense afname van 0,10% verteenwoordig vergeleke met die 516 500 ha wat die vorige seisoen geplant is.
Vir grondbone is die oppervlakteskatting 50 000 ha, wat 6,61% meer is as die 46 900 ha geplant vir die vorige seisoen.