Misdade, soos veediefstal, weidingdiefstal en rooftogte op plase het die afgelope jaar langs die Lesothogrenstoegeneem, sê Vrystaat Landbou (VL).
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van die organisasie se veiligheidskomitee, sê hulle verwag dat veral veediefstal in die feestyd sal styg. “Dit sal wees weens die tekort aan slagvee, maar ook omdat die Caledonrivier se vlak tans daal.”
Breytenbach sê hulle vermoed die meeste veediefstal is vir kommersiële doeleindes, want troppe van 15 tot 30 stuks vee word afgekeer. “Dit kan nie vir potslagtings wees nie, daai vee word weer verkoop.”
Hy sê nóg ’n misdaad wat groot probleme veroorsaak, is weidingdiefstal, wat deur die polisie as opsetlike saakbeskadiging aangeteken word. “’n Boer het my vroeër die week gebel en gevra wat staan hom te doen as ’n veewagter van Lesotho pas 150 beeste in sý weivelde ingejaag het.”
Hulp van Lesotho
Breytenbach sê intussen het hulle terugvoering van komm. Happy Mashlangu, die hoëkommissaris van polisie in Lesotho, gekry ná hulle ’n brief aan hom gerig het om hulp te vra. “Hy het onderneem om ons bekommernisse en klagtes tot op die hoogste vlak te neem en die saak ook aan Interpol deur te gee.”
Mashlangu het glo verwys na die reeks vergaderings wat reeds plaasgevind het en die ondernemings wat daar gemaak is. “Ons weet verskeie ondernemings is gemaak, maar die misdadigers staak nie hul misdade nie, so wat staan ons anders te doen.”
Breytenbach sê die VL hoop om voor Kersfees sy saak van minagting van die hof teen die Vrystaatse regering by die hof in te dien.
Dié saak volg ná die staat glo nie ál die voorwaardes nagekom het van die hofbevel wat ingevolge ’n ooreenkoms tussen die organisasie en die staat oor die Lesothogrensbekragtig is nie.
15 Desember 2011