Suid-Afrikaanse regeringsbeleid word te selde op deeglike wetenskaplike navorsing geskoei, het mnr. Ronald Ramabulana, voorsitter van die Landbou-ekonomievereniging van Suid-Afrika (Levsa), op dié vereniging se jaarlikse konferensie gesê.
Dié geleentheid vind tans by die konferensiesentrum Diep-in-die-Berg in Pretoria plaas.
“Die samelewing moet enige beleid wat nie op wetenskap gegrond is nie in twyfel trek,” sê Ramabulana. “Die vraag is egter dít: Praat akademici en beleidmakers dieselfde taal?”
Nie genoeg navorsing
Suid-Afrika het ’n groot poel kundigheid, maar begrotingsbesnoeiing het die afgelope paar jaar daartoe gelei dat navorsing aan die agterspeen suig.
Gevolglik word daar nie genoeg navorsing gedoen voordat beleide gevorm word nie.
Ramabulana sê die skuld vir ’n tekort aan wetenskaplik geformuleerde regeringsbeleid kan nie net op politici se skouers gelê word nie.
“Navorsers moet gespesialiseerde inligting op só ’n manier aanbied dat dit vir hul gehoor verstaanbaar is.”
Langtermyn-verhoudings met beleidsmakers is om dié rede van die uiterste belang. Ramabulana sê tydsberekening is nóg ’n probleem wat goeie koördinasie tussen navorsing en beleid belemmer.
“Die aard van die twee velde maak dit haas onmoontlik om dinge te korreleer. Daar moet dalk moeite gedoen word om beleidsmakers deurgaans oor die vordering van navorsing te verwittig.”
29 September 2011