Meer as 343 renosters is die afgelope jaar in Suid-Afrika vir hul horings doodgemaak, teenoor verlede jaar se 333.
Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die Private Rhino Owners Association (PROA), sê dit is die syfer wat hy tot nou aangeteken het. “Dit sluit egter nie die jongste syfers van Sanparke in nie.”
Jones verwag dat vanjaar se syfer op 400 te staan kan kom. “Dit sal beteken 1 000 renosters sedert die begin van die jongste vlaag stropings in 2007 doodgemaak is.”
Nóg twee
Intussen is nóg twee renosters die afgelope naweek op die plaas Mauricedale in Mpumalanga afgemaai. Albei was witrenosterbulle.
Luidens ’n berig in Beeld (7 November 2011) is een renoster se horing afgesaag. Dit het slegs 1 kg geweeg.
Die tweede renoster het, ná hy geskiet is, die bosse ingevlug. Die stropers is vermoedelik deur veldwagters versteur voordat hulle sy horing kon afsaag. Die veldwagters het Saterdagaand (5 November 2011) die skote gehoor, waarna hulle gaan ondersoek instel het.
Verdagtes
Volgens die berig word verwag dat dié stropers verbind kan word met verdagtes wat uit die polisieselle in Skukuza ontsnap het. Twee vermeende stropers, wat verlede week in die Kruger-Wildtuin ontsnap het, het glo die vorige aand saam met nóg twee mans ontsnap.
’n Vyfde man wat saam met hulle aangehou is, het in die selle agtergebly.
Gevoelloos
Jones sê die voorval is ’n duidelike aanduiding dat stropers so gevoelloos is dat hulle ’n dier, waarvan die horing reeds verwyder is, steeds sal doodmaak net om die laaste bietjie van die horing te kry.
“So, enigiemand wat dink sy diere is veilig omdat hy reeds voorsorg getref het, gaan wreed ontnugter word.”
Volgens Jones het voorvalle op wildplase en in provinsiale en plaaslike wildreservate, soos voorspel, toegeneem ná die Weermag in die Kruger-wildtuin ontplooi is.
7 November 2011
Bron: Beeld