
Altesame 6,9 miljoen ton veevoer is in die jongste tydperk verkoop, sê mnr. De Wet Boshoff, uitvoerende direkteur van die vereniging van veevoervervaardigers (Afma), in ’n verklaring. Die groei van 2,2% is meer as die 1% wat veevoerverkope van April 2020 tot Maart 2021 gestyg het, vergeleke met die vorige ooreenstemmende tydperk.
Die pluimvee- en lewendehawebedryf is in die jongste tydperk die meeste geraak deur hoë voerpryse, weens hoë internasionale kommoditeitspryse en die vernietigende uitwerking van dieresiektes.
Kommoditeitspryse is ondanks plaaslike rekordgraan- en oliesade-oeste op hoër as normale vlakke weens vraagdruk in die internasionale graan- en oliesadewaardeketting, aangedryf deur internasionale vraag en aanbod.
Boshoff sê die waardeketting was nog besig om van die ontwrigtende gevolge van covid-19 die afgelope twee jaar te herstel toe dit ’n bykomende knou toegedien is met Rusland se inval in Oekraïne, wat bykomende druk meegebring het.
Internasionale kommoditeitspryse word afgelei van die Chicago-graanbeurs, gegrond op internasionale vraag en aanbod, en word as verwysingsprys op die JSE gebruik om ’n Suid-Afrikaanse prys te bepaal.
Sterk vraag uit China
Internasionale vraag na voer is die belangrikste aandrywer van voerkommoditeitspryse. Volgens Boshoff het internasionale voerproduksie in 2021 met 2,3% tot 1,236 miljard ton gestyg.
China is steeds die wêreld se grootste voervervaardiger en sy produksie het in 2021 met 8,9% tot 261,4 miljoen ton gegroei. Die land is besig om sy varkkuddes te herbou ná die verwoesting wat Afrika-varkpes daar veroorsaak het. Varkvoerproduksie het daarom met 6,6% tot 17,25 miljoen ton gegroei en dit is waarom China se vraag na mielies en soja die afgelope twee tot drie jaar hoër as gewoonlik was. Dit het volgens Boshoff internasionale vraag en aanbod direk en beduidend geraak.
“Dus, gegewe die huidige internasionale vraag-en-aanbodsituasie, sal die hoër as normale pryse na verwagting op kort tot mediumtermyn voortduur.”
Belowende groei in SA
In Suid-Afrika ervaar die pluimvee- en lewendehawebedryf benewens die druk van hoë voerkoste ook probleme met dieresiektes soos voëlgriep, Afrika-varkpes en bek-en-klouseer.
Ondanks dié kwessies toon navorsing vir die opstel van die meesterplanne vir die pluimveebedryf en vir die landbou en voedselverwerking dat daar verskeie gebiede van potensiële groei en ontwikkeling in die pluimvee- en lewendehawesektor is.
Boshoff sê dié sektore vorder danksy inisitiatiewe deur hul bedrywe en dit begin gunstige gevolge oplewer.
Persentasiegewys het varkvoerproduksie in die jongste tydperk die grootste groei getoon, naamlik 16,4%, gevolg deur bees- en skaapvoer met 8% en braaihoenders met 2,4%. Volumegewys het die produksie van braaihoendervoer die grootste groei getoon, naamlik 66 717 ton, gevolg deur bees- en skaapvoer met 66 504 ton en varkvoer met 63 785 ton.
In die pluimveesektor, wat erg deur voëlgriep geraak is, het die produksie van voer vir lêhenne en teelhoenders met onderskeidelik 2,1% en 1,4% gedaal.
Die pluimveemeesterplan, wat nou in sy derde jaar van inwerkingstelling is, bevat verbintenisse tot belegging deur belanghebbendes van meer as R1 miljard.
Boshoff sê die groei wat reeds behaal is ten opsigte van weeklikse plasings van hoenders, die vestiging van 18 bykomende nuwe kontrakboere en die skep van meer as 1 450 bykomende werkgeleenthede sal na verwagting nog verder uitbrei omdat die beleidsomgewing die momentum ondersteun wat reeds geskep is.
“Namate die momentum voortduur en doelwitte in die verskillende diereproduksiesektore bereik word, sal dit beslis voerproduksie in Suid-Afrika verder aandryf, wat sy eie stel van gunstige veelvuldiger-effekte het, beide stroomop en stroomaf in die waardeketting,” sê Boshoff.