Die eerste resultate van onafhanklike toetse om die doeltreffendheid van Slenkdalkoors-entstof vas te stel, toon dat baie van die diere in die proewe nie genoegsame teenliggame opgebou het om hulle doeltreffend teen die siekte te beskerm nie.
Die bevindinge is tydens die Oos-Kaap NWKV se jaarvergadering op Cradock, deur mnr. Geoff Kingwill, voorsitter van Cape Wools, bekendgemaak.
In ’n Cape Wools-geborgde proefneming by Adelaide wat deur die staatsveearts op Fort Beaufort gemonitor is, is twee groepe van 35 tweetandooie elk, met onderskeidelik die lewendige Smithburn- en dooie Kloon 13-entstof in Oktober verlede jaar ingeënt. ’n Kontrolegroep van 30 ooie is nie ingeënt nie. Bloedmonsters is op dag 14, 28 en 42 getrek om vas te stel tot watter mate die diere teenliggaampies teen die siekte opgebou het. Die bloedmonsters is by die onafhanklike akademiese laboratorium in Pretoria ontleed.
Sowat 70% persent van die ooie wat die Smithburn-entstof ontvang het, het geen teenliggame opgebou nie en in die geval van Kloon 13 was die persentasie nagenoeg 60. “Die kort antwoord is dat die entstof wat in die proefneming gebruik is, nie doeltreffend was nie,” het mnr. Juan Venter, Oos-Kaapse produksie-adviseur van die NWKV gesê.
Nie doeltreffend nie?
Venter sê verskillende redes lan die oorsaak vir die swak prestasie van die entstof wees. Sommige veeartse meen dat die virus kon muteer het en ’n nuwe stam in die land teenwoordig is, óf dat die kontrole by Onderstepoort Biologiese Produkte, wat die entstof vervaardig, nie doeltreffend is nie.
Hy het benadruk dat ’n bepaalde protokol tydens die proefneming gehandhaaf is om die geloofwaardigheid daarvan te verseker. Verdere bloedmonsters van die skape sal in April en Oktober vanjaar en weer in April 2013 getrek en ontleed word om te bepaal tot watter mate die diere wat ingeënt was, nog teenliggame het. Die bevindinge is reeds aan Onderstepoort oorhandig.
Dr. Pieter Prinsloo, voorsitter van die Oos-Kaap RPO, sê hy bly by sy standpunt dat die groot verliese wat boere verlede jaar weens die siekte gelei het, nie voor die deur van boere gelê kan word nie en dat nuwe veldstamme moontlik ontwikkel het. “Dit word bevestig deur navorsing wat deur drs. Daan Goosen en A.D. Botha gedoen is en bevind het dat onvoldoende entstof beskerming een van die hoofredes vir die groot verliese in die Aberdeen-distrik was.”
OPB het verlede week volbladadvertensies in Landbouweekblad geplaas om hulle kant van die saak te stel.
26 Maart 2012