Beplande herstelwerk aan twee van Zimbabwe se belangrikste waterreservoirs word benadeel deur meerminne wat glo daar spook.
Luidens ’n berig in Daily Mail sê mnr. Sameul Sipepa Nkomo, Zimbabwe se Minister van Waterbronne, angsbevange werkers weier om na aanlegte naby Gokwe en Mutare terug te keer.
Nkomo het aan ’n parlementêre komitee gesê die enigste manier om dié probleem op te los, is om tradisionele bier te brou en rituele uit te voer om die bose geeste te verdryf. “Al die beamptes wat ek al soontoe gestuur het, het hulle voorgeneem om nooit terug te keer nie.” Die meerminne kom glo ook in ander reservoirs voor.
Broodnodig
Herstelwerk aan die twee genoemde reservoirs is glo “broodnodig” omdat dit belangrike bronne van water vir die bevolking, maar ook vir landbouproduksie is. Die land wat eens as die broodmandjie van Suider-Afrika beskryf is, se landboubedryf is grootliks weens pres. Robert Mugabe se omstrede grondhervormingsprogram gekelder.
Na verwagting sal Zimbabwe se landbouproduksie vanjaar op een na op sy laagste vlak wees sedert Zimbabwe in 1980 onafhanklik van Brittanje verklaar is.
Die grootste deel van die bevolking deel Christelike en tradisionele waardes, en voor sekere rituele nie uitgevoer is nie, sal geen verdere herstelwerk uitgevoer word nie.
Bron: Daily Mail
9 Februarie 2012