Sommige boere gaan verder as die minimum loon en behandel hul werkers met menswaardigheid, het me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, gesê toe sy haar begrotingsrede in die Parlement gelewer het.
Oliphant het blitsbesoeke aan plase in agt provinsies gelei om te sien of arbeidswetgewing nagekom word.“Gedurende die inspeksies het dit duidelik geword dat die meeste boere aan die wetgewing voldoen.”
Boere wil help
Sy het vertel van ’n mooi gebaar waar ’n boer sommer self gevra het dat sy landboubesigheid ondersoek word.
Ná die inspeksie het hy beloof om die vier foute wat die inspekteurs aan hom uitgewys het, reg te stel. Met ’n opvolgbesoek was drie van die vier foute al reggestel.
Oliphant het egter ook aangedui dat daar boere is wat nie so goedgesind teenoor hul werkers is nie. “Ek was ook geskok deur die behandeling van werkers in ander gebiede, veral hul behuising.”
Maar oor die algemeen toon die inspeksieverslag ’n hoë koers van wetgehoorsaamheid, baie keer meer as 70%, het sy bygevoeg.
Wat in haar begrotingsrede uitstaan, is dat die departement meer inspekteurs sal moet aanstel, want hy vind dit moeilik om sy hele inspektoraat, openbare en private sektore, te bereik.
Hy het tans net 1 018 arbeidsinspekteurs. Wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes sal in hierdie boekjaar deur die parlementêre prosesse beweeg. Wanneer die twee wette afgekondig word, sal die beskerming van tydelike werkers vir die eerste keer versterk wees, het Oliphant gesê.
Beskerming
Daar word geskat dat a-tipiese werkers (wat byvoorbeeld vastetermynkontrakte, tuiswerk, en deeltydse werk doen) tussen 2000 en 2010 vanaf 1,5 miljoen werkers tot 3,89 miljoen gegroei het.
“Die uitbreiding van die beskerming en verbod op mishandelings wat deur hierdie werkers ondervind word, is daarom ’n baie beduidende stap.”
Boonop word gekyk na die lewensvatbaarheid om ’n aftreespaarplan vir kwesbare werkers, veral plaaswerkers en huishulpe, te ontwikkel.
“Indien ons ’n aftreespaarplan vir hierdie werkers kan instel, sal dit ’n kultuur om vir aftrede te spaar, by werkers met ’n lae inkomste bevorder,” het sy bygevoeg.
Wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op Indiensnemingsdienste word tans deur Nedlac oorweeg en sal die Parlement binnekort bereik.
Die besteding van die Departement van Arbeid se begroting van R2,1 miljard sal hoofsaaklik oor die mediumtermyn gefokus word op die beskerming van kwesbare werkers, om werksoekers in die werksmark te integreer en om ordentlike werk te verseker.
9 Mei 2012