
Afrika sal steeds bedag moet wees op grondvergrype want hy het sowat 60% van die “reserwe” grond in die wêreld, sê prof. John Wibberley van die Royal Agricultural University in Engeland.
Wibberley was een van die sprekers by die 9de kongres van die African Farm Management Association (Afma) in Kaapstad, waar gekyk was hoe bestaansboerdery in ’n meer markgerigte boerdery getransformeer kan word.
Wibberley het die belang uitgelig waarom die familieplaas behoue moet bly. Die verlies van die familieplaas kan daartoe lei dat gemeenskappe hul hart deur die verskuiwing van mense kan verloor, landelike werkloosheid sal toeneem en landelike armoede versnel.
Altesaam 84% familieplase is minder as 2 hektaar groot en beslaan 12% van die landbougrond. Familieboerderye bewerk 62% van die landbougrond in Afrika, 83% in Noord- en Sentraal Amerika, 18% in Suid-Amerika, 85% in Asië en 68% in Europa.
Hoewel sub-Sahara Afrika die meeste “oorskot” grond het, word slegs 45% daarvan as bewerkbaar gereken. Hiervan is 16% vrugbaar, 13% mediumvrugbaar en 16% se vrugbaarheid is laag.
Wibberley sê daar is 1,048 miljard mense in Afrika suid van die Sahara wat 67% landbou beoefen, maar die produktiwiteit is slegs 3,7%. “Dit bied ‘n groot uitdaging. “Julle produseer sowat 24% van die potensiële produksie met goeie bestuur deur van bestaande tegnologieë gebruik te maak.”
Volgens hom is die hoofrol wat die familieplaas speel dat dit suksessie nastreef wat daartoe lei om mense met die grond te verbind én boonop het boerdery die potensiaal om ’n land te stabiliseer.