‘n Rekordgetal somer-hektare is vanjaar deur Suid-Afrikaanse saaiboere aan sojabone afgestaan.
Die Nasionale Oesskattingskomitee se jongste oppervlakte-skatting, die eerste sedert Januarie se voorlopige aanplantingsyfer, toon dat ’n rekord-hoogtepunt van 472 000 ha met sojabone beplant is. Dit is 13% meer as verlede seisoen en amper drie keer soveel as vyf jaar gelede.
Dié verhoogde aanplantings kom te midde van ’n snelgroeiende internasionale mark vir sojabone asook ’n toename in die plaaslike oliesaad-parsvermoë.
Senwes en sy internasionale vennoot, die landbou-en-voedselreus Bunge, beoog om ’n parsaanleg op te rig wat Suid-Afrika se parsvermoë vir soja-oliekoek meer as sal verdubbel.
Verwag rekord-oes
Volgens die komitee se produksieskatting is vanjaar se verwagte nasionale sojaboon-oes ook ’n rekord van amper 756 000 ton. Die komitee verwag wel ’n laer gemiddelde opbrengs, waarskynlik weens droogteskade. Hul eerste skatting is 1,6 ton per ha teenoor verlede jaar se 1,7 ton per ha.
Die groot uitbreiding in sojaboon-aanplantings was klaarblyklik in ’n groot mate ten koste van sonneblomme. Boere het hierdie seisoen ’n derde minder van sonneblomme geplant, meen die komitee.
Sonneblom-hektare beloop ’n geskatte 443 300 ha teenoor verlede jaar se 642 700 ha. Net soos met sojabone het die land se mielieboere, waarskynlik aangevuur deur voortgesette sterk pryse, nie op hul louere gerus nie.
Volgens die komitee is amper 2,7 miljoen ha met mielies beplant wat ’n besonder groot oes van 11,7 miljoen ton kan lewer. Dié aanplantings is amper 13% meer as verlede jaar.
3 Maart 2012