
Ten spyte van 'n bedrogsaak teen mnr. Orton King, uitvoerende direkteur van die Mega Groep, 'n siviele saak teen Agri Mega en grootskaalse afleggings by die maatskappy, is alles glo op koers vir die 25ste Agri Megaweek om voort te gaan in September op Bredasdorp.
King is in Mei in hegtenis geneem ná ’n lid van Agri Mega se direksie 'n klag van bedrog van R2,3 miljoen aanhangig gemaak het. Dis intussen verander na 'n klag van sekondêre diefstal.
Mnr. Alan Winde, minister van ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, het ook bevestig dat die departement van landbou 'n siviele saak teen Agri Mega NPC ('n nie-winsgewende onderneming) gemaak het op grond van kontraktuele oortredings.
Na wat verneem kon word, hou dit verband met die beweerde wanaanwending van sowat R30 miljoen se staatsgeld wat vir die ontwikkeling van nuwe boere bestem was. Winde sê die betalings is in 2014 gemaak.
“Ons wag tans op 'n datum waarop die saak in die Hooggeregshof gaan voorkom.”
Min oor by Mega Groep
Landbouweekblad het ook verneem altesaam 24 werknemers van die Mega Groep is afgelê. Vrydag, 28 Julie is hul laaste dag by die maatskappy. Verskeie ondernemings het glo die afgelope tyd hul ondersteuning aan Agri Mega onttrek.
King het Dinsdag, 25 Julie, weer in die Bredasdorp-landdroshof op die klag van sekondêre diefstal verskyn. Die saak is uitgestel tot 10 Oktober, sodat die direkteur van openbare vervolging kan besluit of verdere vervolging moet plaasvind, het me. Corlene Conradie van Besters Prokurers gesê. King se borgtog is vir hierdie periode verleng.
“Die rede waarom die klag na sekondêre diefstal verander is, is vir ons duister.”
Me. Felicity Pereu kla aan.
Niks staan in Megaweek se pad
Mnr. Jan Greyling, bestuurder van media en besigheidsontwikkeling van Agri Mega, het die versekering gegee dat Agri Megaweek egter sal voortgaan.
“In die stadium is daar niks wat in Megaweek se pad staan nie. Die besprekings van uitstallers loop mooi, asook die openingsprekers en mense wat aktiwiteite gaan aanbied.”
Mnr. Pikkie Louw, projekbestuurder by die Mega Groep, hanteer die reëlings vir vanjaar se Agri Megaweek. King is steeds op sy pos by die onderneming.
King het in 'n verklaring gesê hy is oortuig van sy onskuld en begerig dat die reg sy loop neem.
“Hierdie aangeleentheid in ons eie geledere (sal) hoegenaamd geen invloed op enige van ons projekte hê nie. Ek, my personeel en ons medewerkers gaan volstoom voort om aan ons kliënte die beste moontlike diens en produkte te lewer.”
Vanjaar se ekspo vind 13 tot 16 September plaas. Dit fokus oudergewoonte op produsente, verskaffers en verbruikers van landbouprodukte, maar die tema gaan ook toerisme en die buitelewe aanraak.