Mei se brandstofprysstygings sal nie so kwaai wees soos die 80c per liter-styging waaroor tans gespekuleer word nie, sê mnr. Tony Twine, ’n senior ekonoom van die Econometrix-groep, wat volgens data van die eerste agt dae van April voorspel dat die petrolprys met 19c per liter gaan styg, terwyl diesel na verwagting 16c per liter duurder sal wees.
Twine sê die grootste faktor agter dié styging is ’n oorverhaling wat volg omdat brandstofpryse in Maart vanjaar nie genoeg aangepas is nie. “April se data het geopen met ’n oorverhaling van 29c per liter”.
Voorspelling
Twine sê weens die beweging van die olieprys sedert 1 April is ’n voorspelling van ’n styging van 80c per liter al gemaak. “Dit volg omdat spekulante die prys baie rondskuif. Dit laat die kontrakmark redelik ongeskonde.”
“Ons gerafinieerde brandstofpryse, wat die pryse is wat ons prysstelsel gebruik, het nie in dieselfde mate opgeskiet soos wat spekulante oliepryse opdryf nie,” verduidelik Twine.
Vlietende invloed
Twine sê die internasionale olieprys se skielike styging tot $127 per vat, Maandag (11 April), behoort slegs ’n vlietende invloed op pryse te hê. “Die rand het gelukkig in ons guns teen die dollar versterk wat dié styging redelik teengewerk.”
Volgens Twine kan dié prys wel ’n invloed op Suid-Afrika se pryse hê mits die neiging vir twee maande voortduur en na die plaaslike mark deursyfer.
12 April 2011