‘n Jong meisie het in Soweto beswyk nadat sy vermoedelik hondsdolheid opgedoen het, sê die Gauteng departement van landbou en landelike ontwikkeling.
Luidens ‘n berig op News24.com sê me. Nandi Mayathula-Khoza, LUR, die meisie is Saterdag in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal dood.
Sy het glo gesterf aan simptome wat met dié van hondsdolheid ooreenstem en is glo deur honde gebyt.
Instituut vir Oordraagbare Siektes
Volgens Khoza is die saak aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes oorhandig, aangesien dit onduidelik is of die meisie aan hondsdolheid dood is.
Khoza het die Kopanong-gemeenskapsentrum in Dobsonville besoek as deel van haar departement se veldtog vir inenting teen hondsdolheid. Dié veldtog sal tot 22 Oktober voortduur, en is geloods nadat ‘n uitbreking van die siekte in die noorde en weste van Johannesburg ondervind is.
Wêreld Hondsdolheid-dag word vandag (28 September) deur die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gevier.
28 September 2010