Pryse wat tans aan melkprodusente betaal word, is nie volhoubaar nie en dit kan lei tot ‘n voorraadprobleem aanstaande jaar, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO).
Die organisasie sê die pryse wat tans aan boere betaal word, verminder stelselmatig hul vermoë om volhoubaar te kan boer. Produsentepryse is vanjaar gemiddeld 10% laer as in 2009, en 5% laer as verlede jaar.
Daarenteen het produksiekoste die afgelope jaar skerp gestyg. Mielie- en sojapryse het onderskeidelik met 80% en 26% gestyg, en die melk-voerverhouding is op sy laagste vlak sedert die begin van verlede jaar.
Die pryse van kunsmis het sedert September verlede jaar met tussen 23% en 38% gestyg, terwyl diesel gemiddeld 26% duurder is. Boere betaal nou ook tot 73% meer vir elektrisiteit as in 2008.
Dié scenario plaas boere onder geweldige druk, en dit beperk hul kanse op hoër as normale produksie.
Kontras
Volgens die MPO bestaan ’n kontras tussen die plaaslike en internasionale situasie. In ander wêrelddele het suiwelpryse skerp gestyg ná die afswaai wat die bedryf in 2008 ervaar het.
Die organisasie sê hoewel wêreldsuiwelpryse sedert die helfte van dié jaar begin daal het, is dit steeds aansienlik hoër as 2008 se vlakke.
Die prys van botter en melkpoeiers het sedert 2009 verdubbel, terwyl kaaspryse terselfdertyd met 58% gestyg het. Melkproduksie in al die groot suiwelproduserende lande is vanjaar ook hoër as verlede jaar.
Kleinhandelpryse en 2012
Volgens die organisasie het plaaslike kleinhandelpryse ietwat gestagneer. Volgens amptelike syfers van Statistieke SA het die verkope van vars melk, vergeleke met verlede jaar se syfers, met 3,5% gestyg.
Pryse van suiwelprodukte op verwerkersvlak was in September vanjaar sowat 1,1% hoër as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. “Dus wil dit lyk asof verwerkers hul prysvlakke in stand kon hou ondanks ’n toename in volume.”
Volgens die MPO is dit tans duidelik dat Suid-Afrika se boere nie in verlede jaar se internasionale prysstygings gedeel het nie.
“As hulle dus nie binnekort ’n aansienlike prysstyging sien nie, kan melkkopers vroeg aanstaande jaar voorraadprobleme hê.”
23 November 2011