Die melkbedryf verwag nie enige vuurwerke rondom pryse aan melkprodusente in die komende jaar nie, sê Samelko.
Mnr. Andre van Heerden, uitvoerende hoof van Samelko, sê die melkvloei in die land is steeds baie hoog, en hy voorsien dat pryse langsaam gaan styg.
“In ons distrikte kry melkboere tans tussen R2,57 en R2,60 per liter. Soos gewoonlik word prysstygings in die winter verwag, maar ons weet ook dat markte maar baie langsaam is,” vertel Van Heerden.
Volgens Van Heerden blyk invoere vanjaar nie so groot bedreiging vir die plaaslike mark te wees soos wat verlede jaar die geval was nie. Hy sê die wisselkoers en rentekoerse skep tans ‘n minder gunstige klimaat vir grootskaalse melk- en suiwelinvoere.
Pryse
Intussen het die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (SAMPRO) ‘n verslag saamgestel om die jongste produksieprysindeksinligting oor die rou pryse van melk asook die pryse van suiwelprodukte aan die mark en rolspelers beskikbaar te maak.
Luidens ‘n verklaring is die verslag saamgestel uit die inligting oor landbouprodukte wat Statistiek SA in hulle maandelikse produksieprys indekse verskaf.
Dit verskaf belangrike inligting aan die mark, wat tot die mededingendheid van die bedryf in die land bydra. Van November 2010 tot Desember 2010 het die prys van rou melk met 0,5% gestyg, terwyl pryse van suiwelprodukte met 0,2% gedaal het.
Volgens die verslag het die prys van rou melk van Desember 2009 tot Desember 2010 met 6% gedaal, wat die derde grootste prysdaling onder die nege genoemde landbouprodukte is.
Sedert Januarie 2007 tot Desember 2010, het die prys van rou melk met 41% gestyg, terwyl dié van suiwelprodukte met 33,9% gestyg het.
2 Februarie 2011