
In die week wat die wêreld hulde bring aan oud-president Nelson Mandela, wie se 94ste verjaardag Woensdag (18 Julie 2012) gevier word, is ’n melkboer van Bronkhorstspruit ’n dag voor sy 64ste verjaardag in ’n plaasaanval geskiet.
Net ’n selfoon word vermis ná mnr. Hibbe van der Veen deur drie mans aangeval is. Hy word tans in ’n hospitaal in Pretoria behandel ná hy ernstige beserings aan sy ingewande opgedoen het.
Van der Veen is een keer geskiet. Die koeël het by sy buik ingegaan en by sy boud uitgekom. Volgens ’n berig in Beeld was sy toestand Dinsdagaand (17 Julie 2012) bestendig.
Voorval
Die voorval het Maandagnag (16 Julie 2012) plaasgevind. Die verdagtes het Van der Veen se kamer binnegekom deur ’n reuse-boomstomp deur die venster te gooi. Mnr. Rudolf van der Veen, sy seun, sê hy weet nie of sy pa in die bed geskiet is nie, maar sy pa het wel vir hom gesê hy het met die aanvallers gestoei.
“ Vir my pa was dit nie ’n kwessie van of dit gaan gebeur nie, maar eerder wanneer dit gaan gebeur, want dit is deesdae hoe die wêreld is. Boere is maklike teikens,” sê Rudolf. Hy sê sy pa is ’n sterk man “wat Bismarck du Plessis sal skrum.” Van der Veen melk elke oggend sy 20 koeie self.
Hulp met kamerdeur
Mnr. Jurie Smit, Van der Veen se 65-jarige neef, het wakker geword van ’n geraas wat uit Van der Veen se kamer gekom het. Van der Veen woon saam met Smit en sy vrou, Bettie.
Toe hy Van der Veen se kamerdeur oopmaak, het hy in ’n geweer se loop vasgekyk. Smit is terug na sy kamer waar hy ’n skoot afgevuur het. Een van die aanvallers is vermoedelik gewond voor hulle op die vlug geslaan het.
Smit moes glo sy buurman bel en vra om hom te help om Van der Veen se kamerdeur oop te forseer, omdat Van der Veen voor die deur inmekaar gesak het. Die verdagtes word gesoek.
Bron: Beeld