
As 'n mens met mnr. Johannes Loubser, 2015 se SA Meestersuiwelboer van die Jaar, oor die afgelope twee droë winters en die dalende damvlakke in die Wes-Kaap gesels, herroep hy 'n ou bekende liedjie uit sy kinderdae.
"Kinders moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink
Ooh.. kinders moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink
Dit kom van ver af, dit kom van ver af, dit kom van ver af."
Loubser het tydens 'n besoek aan sy plaas buite Durbanville gesê hy is gelukkig om nie deur te loop onder die erge droogte en watertekorte wat elders in die provinsie heers nie.
"Ons het verlede jaar 380mm reën op die plaas gehad. Ons kon doen met so 100mm meer maar ons ervaar nie 'n buitengewone droogte nie."
Watertekort kommerwekkend
Loubser melk sowat 1800 koeie per dag en lewer daagliks 65 000 liter tot 70 000 litr melk aan die familiefiliaal Fair Cape in Kaapstad. Dié boerdery se water kom hoofsaaklik vanuit 'n plaasdam wat Loubser jare gelede op sy plaas gebou het. Water word vanaf die Dieprivier opgevang voor die rivier uiteindelik in die see naby Milnerton uitmond.
"My plaasdam vat so 22 000 kubieke meter water en hy het nog genoeg water om my deur te sien."
Tog is hy geweldig bekommerd oor die toenemende watertekort in die Wes-Kaap.
"Die Wes-Kaap gaan nie soseer gebuk onder 'n droogte nie maar eerder onder 'n waterskaarste. Die laaste twee jaar se relatiewe droë winters het bygedra tot dié probleem. Wat my bekommer is die feit dat die Wes-Kaap vanjaar 'n goeie winter sal moet hê. Ons het laas in 2001 werklik 'n goeie reënseisoen gehad."
Moenie mors nie
Watervermorsing steek Loubser dwars in die krop en hy skryf 'n deel van Suid-Afrika se waterprobleme daaraan toe dat mense nie water met respek hanteer nie.
"Ons mors nie met water op dié plaas nie, dit is die laaste ding wat ons doen. Ons weet hoe kosbaar water is. Ons het nie die luuksheid om te mors nie," sê hy.
Loubser pas 'n waterherwinningsproses in sy boerdery toe wat hom sowat 40 000 liter water per dag spaar.
"As gevolg daarvan het ek genoeg water. Ek het twee boorgate op die plaas wat ek feitlik nooit gebruik nie, net in 'n noodgevalsituasie."
Spaar, spaar, spaar
Ook by Fair Cape se fabriek in Kaapstad is waterbesparing aan die orde van die dag.
Volgens mnr. Colin Ohloff, omgewingsbeampte by Fair Cape, het die maatskappy reeds verlede jaar begin om werknemers op te lei om soveel moontlik water te bespaar.
Gereelde inligtingsessies word gehou waarin werknemers ingelig word oor die erns van waterbesparing, sowel as die maatreëls wat by Fair Cape in plek gestel word met dié doel om waterverbruik soveel moontlik te beperk.
"Van dié maatreëls sluit in om die gebruik van tuinslange en hoëdrukspuite te verbied," sê Ohloff.