’n Melkboer van Magaliesburg is gedeeltelik verlam nadat hy tydens ’n aanval op sy plaas Golden Valley in die rug geskiet is.
Luidens ’n berig in Beeld lê die 57-jarige mnr. Bouke Tack tans in die Milpark-hospitaal in Johannesburg sonder enige gevoel in sy een been.
Tack, sy 53-jarige vrou, Olga, en hul 18-jarige seun, Marnus, het Sondagoggend (25 Maart 2012) weens ’n gehamer aan hul agterdeur en blaffende honde wakker geword. Hulle het ’n vreemde man in die kombuis aangetref wat op hulle geskiet het.
Die egpaar het gevlug en hul vuurwapen in hul slaapkamer gaan haal en die man met twee skote uit die huis verwilder. Terwyl hy gevlug het, het hy Tack egter deur die kombuisventer gewond.
Bure
Olga sê Tack was onmiddellik verlam. Sy het ’n buurvrou geskakel, wat die polisie en paramedici ontbied het. “Bouke was dadelik verlam en daar was baie bloed. Ek het nog nooit in my lewe ’n geval gesien waar bure só saamstaan nie,” sê Olga.
Vyf verdagtes was glo by die aanval betrokke. Drie van hulle is gevang nadat die verdagtes in die polisie vasgery het. Een van die verdagtes is glo ’n plaaswerker wat vir drie maande by die Tacks werk. Nog ’n man en die skieter het glo gevlug.
Bron: Beeld
27 Maart 2012