
Melkboere moet nuut dink oor voeding, sê mnr. Kenneth Botha, tegniese en bemarkingsdirekteur van die voermaatskappy Barnlab.
Hy het by die MPO Noord se jaarkongres gesê boere moet hul denke verander as hulle die verliese wil opmaak wat hulle ly.
'n Melkboer se marge bo voerkoste (MBV) as persentasie van die melkprys, moet volgens hom bo 50% wees om geld te kan maak. Voorbeelde van boere se koste wat hy in Junie ontleed het, het gewys Wes-Kaapse boere s'n was 23%, topkuddes op die Hoëveld s'n was 42%, en weidingkuddes s'n 41%.
“Die ouens in die Wes-Kaap bloei, hulle kan nie die verliese hanteer wat hulle tans ly nie.”
Maak nie kuilvoer nie
Botha sê agt of nege jaar gelede het Wes-Kaapse melkboere gesê hulle kan nie kuilvoer maak nie, maar nou begin hulle daaraan dink om te kan oorleef.
“Die suiwelbedryf is ver agter wanneer dit by presisieboerdery kom,” sê Botha. Hy het boere aangemoedig om gereeld metings te neem en syfers te evalueer. Boere moet ook seker maak oor wat hulle in voer sit.
“ 'n Mens móét gaan kyk watter tegnologie jy in jou voer gebruik, want tegnologie kos geld. In sekere gevalle kan jy in die winter daarsonder klaarkom.”
Botha sê van die toerusting wat nodig is vir presisieboerdery kos geld, maar dit is belangrik om hierin te belê.