
’n Melkboer moet minstens R3,64 per liter melk verdien om volhoubaar te boer. Dít is ’n kenner se slotsom van ’n billike prys nadat talle melkkopers en -verwerkers hul kooppryse die afgelope maand verminder het.
Die kopers se stap het Landbouweekblad laat besluit om die kenner te nader om uit te vind wat ’n “billike” melkprys sou wees. Weens moontlike vervolging deur Mededingingsowerhede het die bron versoek om anoniem te bly.
Hy het somme gemaak met die aanname dat ’n billike, oftewel regverdige prys gesien word as ’n prys wat ’n boer se oorhoofse koste dek, ’n salaris aan die eienaar en/of bestuurder betaal en vir die eienaar ’n skrale opbrengs op kapitaal bied.
Dié berekeninge maak nie voorsiening vir veranderlikes, soos siektes, voerprysverhogings, kuddevervanging en diefstal, nie. Twee verskillende kuddegroottes (293 koeie en 484 koeie) is in die berekening gebruik. Met albei somme is aanvaar dat die belegging R35 000 per koei is. Rente op kapitaal is bereken op 0,055%.
In die geval van 293 beeste is ’n maandelikse salaris van R35 000 aan die eienaar of stalbestuurder bereken. Die produksiekoste per liter melk is in die omgewing van R3,30 en daar is aanvaar dat elke koei daagliks 20 liter produseer. Die jaarlikse produksiekoste sal dan R7 058 370 wees en die rente op belegging R564 025.
Wanneer die eienaar of bestuurder se salaris van R420 000 in berekening gebring word, is die som R3,76 per liter. Indien 484 koeie gemelk word om 18 liter melk per koei per dag te produseer, met ’n produksiekoste van R3,10 per liter en ’n bestuursalaris van R40 000, sal die skaalekonomie wel in die boer se guns tel.
Só ’n kudde se jaarlikse produksiekoste sal R5 967 531 wees. Die rente op belegging sal weer R564 025 wees. As die bestuurder en/of eienaar jaarlikse R480 000 verdien, beteken dit die totale koste per liter sal R3,64 wees.
• Die weergee van historiese inligting is nie onwettig ingevolge die Wet op Mededinging (Wet 89 van 1998) nie. Samespanning ten opsigte van toekomstige pryse is wel onwettig. Landbouweekblad wil dit duidelik stel dat die berekeninge in die berig bloot ’n bespiegeling is en nie as maatstaf vir prysonderhandelinge kan dien nie.